Bohemian Scrapsody is hard aan die reël van die groot scrap-away in Jeffreysbaai in die Oos Kaap. Ons het die water so liggies getoets met ons laaste sessie by Letaba in die Limpopo en dit het vir ons gewys dat die behoefte baie groot is vir lekker scrap sessies. Ons beplan om die “Scrap-Away by Jeffreysbaai” te hou 30 Maart – 1 April 2012. Dan kan die scrappers ‘n ‘eie tyd naweek’ neem – al die pligte en sorge word by die huis gelos en julle kom val in hier by ons in Jeffreysbaai. Ons wil graag scrappers van reg oor Suid Afrika hê wat by ons kom kuier.
Die scrap-away gaan hanteer word deur ‘locals’. Ons gaan talent uit eie bodem gebruik om die scrap en kaartjie sessies te hanteer. ‘Local is lekker’ is die motto van hierdie scrap-away.
Ons is besig om alles bymekaar te bring – borge, ens. Ons probeer om die koste so laag as moontlik te hou, want die scrappers wat van vêr af kom moet vlieg of ry en dan is daar ook nog die verblyf wat hulle sal moet bespreek. Jeffreysbaai is so 45 minute vanaf Port Elizabeth.
Die plan is om te begin met die “off-the-page’ projek” en dan die res van die tyd te spandeer aan 2 dubbelblad uitlegte en/of die maak van 4 kaartjies – hier gaan ons die mense ‘n keuse gee. Daar is dus ‘n volle een en ‘n halwe dag van lekker scrap wat beplan word. Ons belowe om dit een van die mees interessantste en lekkerste ervarings van julle scrapboek lewens te maak.
Die Bohemian Scrapsody klasse is altyd so vol bespreek dat ons mense gereeld op ‘n waglys moet plaas. Hier is ons baie geseënd. Ons wys so een of 2 fotos om julle ‘n idee te gee hoekom die klasse so gewild is.
Hierdie is ‘n wegbreek van jou daaglikse verantwoordelikhede en sorge. Jy gaan ontspan en jouself geniet tussen mense wat dieselfde belangstelling en stokperdjie as jy beoefen. Jy gaan vriende maak wat van eindelose betekenis vir jou sal wees. En …… ons gaan jou besig hou met aktiwiteite wat jy in jou hele lewe geglo het jy sal nie kan doen nie. So, asseblief, kontak ons as jy meer wil weet.
Ons sal wegspring Vrydag-aand, 30 Maart 2012 met ‘n lekker ken-mekaar aand, ‘n kort kos kook demonstrasie vir scrappers, gevolg deur ‘n lekker aandete en ‘shopping’ by die grootste scrapboek winkel in Suid-Afrika. Saterdag-oggend sal die klasse en scrapboek demonstrasies begin en ons sal besig wees die hele Saterdag. Die finale sessie sal Sondag-oggend tot so om en by 12h00 aanhou. Dan moet ons ongelukkig ophou, sodat almal weer betyds by die huis kan kom om hulle pligte en verantwoordelikhede te hervat.


